| |
Gehalte
vleis by Skaapland
Vleis
Emporium voldoen aan verbruiker se behoeftes
KAPENAARS
kan hulle gereed maak vir ‘n unieke inkopie-ervaring by
die indrukwekkende Skaapland Vleis Emporium van 1 000 m2 wat vandeesweek
sy deure agter die High Street-kompleks in die Tygervallei-omgewing
oopgemaak het. Die Skaapland Vleis Emporium bied aan verbruikers
die geleentheid om hoë gehalte-vleis vars van die plaas te
koop. Volgens die mede-eienaar, mnr. Pieter Burger, wat aan die
stuur van sake sal staan, is die aansienlike belegging deur vyf
plaaslike sakemanne gemaak, aangesien hy en sy vennote gevoel
het dat die kieskeurige koper in die Wes-Kaap al lankal die verskeidenheid
en gehalte verdien, wat die Skaapland Vleis Emporium aanbied.
“Ons wil aan verbruikers die beste vleis en fynproewersprodukte
teen die beste gehalte bied en terselfdertyd onoortreflike diens
lewer. “Ons voel dat verbruikers daarop geregtig is om produkte
aan te koop wat aan internasionale standaarde van gehalte en gesondheid
voldoen,” het Burger, wat op ‘n skaapplaas in die
Vrystaat grootgeword het, gesê. Burger het ‘n suksesvolle
loopbaan in die korporatiewe sektor vaarwel geroep het om hierdie
unieke konsep te vestig en te ontwikkel. Die oorspronklike Skaapland
Slaghuis, een van die grootste slaghuise in die land, is drie
jaar gelede deur mnr. Henk Snyman in Upington in die Noord-Kaap
begin na breedvoerige bedryfsnavorsing in Suid-Afrika , Europa
en die Verenigde Koningkryk. Die slaghuis het reeds by baie Suid-Afrikaners
sinoniem geword met vleis en biltong van die hoogste gehalte.
Die Noord-Kaapse Skaapland was ook die eerste slaghuis in die
land wat ‘n wynlisensie bekom het.
Passie
vir diens
By
die Skaapland Vleis Emporium is vriendelike en persoonlike diens
aan die orde van die dag. Gekeurde personeel het reeds voor die
opening intensiewe opleiding in Upington ondergaan. Aandag is
gegee aan verskeie aspekte vanaf teoretiese kennis en praktiese
afronding tot verbruikerskontak. Internasionale vleismeesters
en deskundiges sal deurgaans ingeroep word om verdere indiensopleiding
te verskaf om te verseker dat die personeelstandaarde ook van
wêreldgehalte is. “Ons wil aan al ons kliënte
die diens gee waarop hulle geregtig is. “Skaapland se 30
personeellede is opgelei om verbruikers raad oor snitte en voorbereidingsmetodes
te verskaf, en kliënte kan selfs by ‘n persoonlike
blokman aanklop vir praktiese inligting. “As ‘n verlangde
snit nie op die rak is nie, sal ons personeel uit hulle pad gaan
om seker te maak dat ons dit kan voorsien. “Aangesien personeel
een van die belangrikste skakels in die suksesketting is, kyk
ons goed na ons werkers deur mededingende salarisse, heeltydse
aanstellings, pensioenfondse en maandelikse vleistoelae aan te
bied. “Personeel moet trots op hulle werkplek wees,”
het mnr. Pieter Burger, bestuurder, gesê. Volgens Burger
is dit vir hulle van kardinale belang dat die personeel opgelei
word om aan kliënte uitmuntende diens te verskaf. “Ons
wil hê dat Skaapland ‘n verbruikersvriendelike inkopie-ervaring
vir enige kliënt moet wees. Dit moet eintlik ‘n gesinsuitstappie
word waaraan ma, pa en die kinders kan meedoen. “Terwyl
die ma’s hul snitte vir aandete by ‘n persoonlike
blokman bespreek, kan die kinders rooiworsies by die toonbank
eet.”
Higiëne
en gesondheid
Volgens
mnr. Henk Snyman, stigter van die alombekende Skaapland Upington,
wat onlangs deur Business Partners SA as een van die topvyf slaghuise
in die land aangewys is, het hy besef dat die dae van klein slaghuise
met vleisreuke verby is, maar dat hy terselfdertyd supermarkte
te onpersoonlik gevind het. “Ek wou ‘n slaghuis begin
wat persoonlike kontak tussen die verbruiker en die personeel
bevorder, van unieke verkoopstegnieke gebruik maak en onder die
hoogste higiëniese standaarde net die beste gehalte-vleis
aan kliënte sal verskaf.” Alle slaggoed wat Skaapland
aanbied, word net op natuurlike voedsel grootgemaak en geen genetiese
ingryping word gebruik om die diere onnatuurlik vet te maak nie.
Beeste word onder meer in voerkrale grootgemaak om die sagste
vleis te verseker. Beide die voerkrale en die abattoire voldoen
aan die streng keuringsvereistes van ISO 2000 Europese standaarde
wat daar gestel is vir die beheer en kontrole oor die voedingsproses
en gesondheid. Alle Skaaplandse rooivleis kom direk uit die hartjie
van die Noord-Weste vanaf verskaffers wat aan streng keuringsriglyne
onderwerp is en deurentyd aan die hoogste vereistes moet voldoen.
Vanaf die slag tot die verpakkingsproses word die mees optimale
temperature gehandhaaf om te verhoed dat die koue ketting (die
handhawing van verkoelingsvlakke) verbreek word. Na slagting word
die vleis onder optimale temperature vervoer en selfs in verkoelde
omstandighede verwerk. In Skaapland word die vleis in spesiaal-ontwerpte
koelkaste eerder as in die normale, oop vertikale yskaste uitgestal
ten einde optimale verkoeling te verseker. Skaapland beskik ook
oor ‘n unieke instapkoelkamer waar kliënte hulle eie
karkasse kan uitsoek en snitte volgens persoonlike smaak onder
toesig laat opsaag. Die sterilisasieprosesse en metodes wat in
die indrukwekkende 1 000 m2 emporium gebruik word, verteenwoordig
slegs die jongste tegnologie wat in Europa beskikbaar is. Die
skoommaaktoerusting word uit Switserland ingevoer en bestaan uit
‘n unieke stelsel wat onder hoë druk en korrekte temperature
alle vet en verwante afval van die vleisverwerkingsproses oplos
en van alle oppervlaktes verwyder.
Verskeidenheid
is die wagwoord
Skaapland
bied ‘n verskeidenheid van produkte wat selfs aan die mees
oordeelkundige verbruiker se behoeftes sal voldoen. “Of
jy nou net tuis wil braai, ‘n smaaklike gesinsete wil voorsit
of vir ‘n uithanggeleentheid moet regstaan, is Skaapland
die antwoord,” belowe die bestuurder. Topgehalte-vleis,
‘n deli met watertand plaaslike en ingevoerde lekkernye
sowel as vars blomme en groente is daagliks beskikbaar. Sodra
die aansoek vir ‘n wynlisensie goedgekeur word, sal die
emporium die hele spektrum van spyseniering dek. Kapenaars kry
vir ‘n slag weer toegang tot tradisionele Suid-Afrikaanse
geregte soos Kalahari-oesters (lewer in netvet), skoongeskraapte
afval, skaapkoppe, outydse kerriesosaties gestop met spek en perskes
en smul-lekker kerrietjops. Terselfdertyd kan fynproewers hulle
ook verlustig in die indrukwekkende deli met ‘n wye verskeidenheid
klaarvoorbereide geregte sowel as smullekker Mediterreense geregte,
plaaslike en ingevoerde koue vleise en kase. Heerlike plaasvars
brode en quiches word daagliks gebak. Internasionale lekkernye
soos Parmaham, Italiaanse en Duitse salamis en gerookte Noorweegse
salm is ook beskikbaar, terwyl Skaapland se opgeleide vleismeester
by hulle eie vervaardigingsaanleg plaaslike kouevleise voorberei.
Vir die meer gesondheidsbewuste kliënt is daar ‘n groot
verskeidenheid hoender- en maer varkvleisprodukte om van te kies
en te keur. Skaapland spog ook met ‘n unieke biltongwiel
waarmee biltong op ‘n baie natuurlike wyse gedroog word.
Industriële waaiers sorg vir optimale lugvloei en stel Skaapland
in staat om tonne van die lekkerste bees- en wildsbiltong te maak.
Die biltongwiele is eie aan Skaapland en is deur die oorspronklike
Skaapland-stigter ontwerp. Die Boerewors-koningin Flick du Toit
verklap vir die eerste keer haar geheime resep vir kampioen-boerewors
en geurige droëwors slegs vir die genot van Skaapland-kliënte.
Spesiale braaipakke kan vir funksies verpak word en heel lammers
en speenvarke is beskikbaar. Een van die spesialiteite is heel
ontbeende lam wat gerol en gemarineer word vir oond- en spitbraai,
wat ideaal is vir die feesseisoen.
|
|